![](https://fruitlips.co.za/wp-content/uploads/2019/08/Resized-Fotos-Womens-day-1.jpg)
Vrouedag…verantwoordbaar bevryd!
Die onderstaande artikel is geskryf deur Deidre Eigelaar, direkteur van FruitLips met Afrikaans as taal en vrouedag (09 Augustus 2019) as gekombineerde onderwerp vir die Afrikaanse Taalraad Facebook blad.
“Soos met die meeste sisteme word die rolle van vroue meer kompleks. Swanger en kaalvoet voor die stoof begin soms in die mallemeule van rolle en verwagtinge soos `n aanloklike mymering op die horison wink. Waar is die dae waar rys, vleis en aartappels en vyf gunsteling resepte genoeg was om `n gesin dolgelukkig te hou. Toe die wildste misdaad in die straat vrugte steel en toktokkie was. Eenvoud, veiligheid en bekende ritmes was gemeet aan verhoudinge en gemeenskap geleenthede, maar dit is geskiedenis. Nou is ons orals, maar ook nêrens. Ons tweets sonder impak vlieg die wêreld vol en facebook likes maak mense slap-knie rusbank aktiviste. Verwikkelde lewens met `n versugting na die ewige jeug en goeters is die norm. Tyd vir diep asemhaal en diep kyk het geleenthede mors geword, want more is al in vandag en gister ingeprop.
`n Glas water lyk rustig op `n makro vlak, maar op `n molekulêre vlak is dit stormagtig en is dit natuurkragte wat die glas water bymekaarhou. Vroue se invloed kan een van die belangrikste sosiale kragte word om die mikrovlak bymekaar te trek sodat die makrovlak kan funksioneer en gemeenskappe help om ritmes te ontwikkel met eenvoudige aksies om sagter omgewings te skep.
Net soos daar swanger en kaalvoet rolle was, is daar nou onrealistiese verwagtinge wat die onrealistiese eise en rolle vir vroue so verhef dat die pendulum weer uit balans neig, met vroue wat weereens die onderspit delf. Die hemelhoë prys wat `n hele generasie betaal vir die stuk sosiale ingenieurswese perk florerende gemeenskappe in. Die voorskrifte van wat vroue moet, mag en nie mag nie moet vervang word deur individualisering in die sin dat elke vrou keuse kan uitoefen in haar eie situasie. `n Onderhandelde skikking met mans, gesinslede, werkgewers, regerings en veral met jouself oor wat werk vir jou, wat werk vir die groter geheel en wat streef na sosiaal gesonder gemeenskappe wat tans lyk soos `n stormsee. Die tyd van “one size fits all” is verby en vroue moet geleer word dat wat en hoe jy werk en leef `n persoonlike verantwoordbare reis is.
“If nothing changes, time does not past”, skryf Carlo Rovelli in “The order of Time”. En verander alles nie teen `n ontsagwekkende spoed nie en vlieg die jare nie in oogwinke verby nie! Ons verstaan baie min van die werklike verhouding tussen wat ons sien in die wêreld en wat die wêreld werklik is en met groot bravade word gemeenskappe gerig met `n beperkte simplisme wat beperk is tot wat ons brein kan verwerk. In die simplisme en min verstaan, word vroue so rolle gemanipuleer en in baie gevalle werk die rolle nie vir vroue, hul huisgesinne of gemeenskappe nie.
Wat ons weet is dat gemeenskappe oor die wêreld heen stukkend is, mense is uitgehonger vir liefde en aandag. Veranderinge word nagejaag en nie omdat dit noodwendig verandering vir `n beter toekoms is nie. Dalk moet klem op die regte van vroue, die regte van dié en regte van daardie in die koorsagtige najaag van dinge, met soveel blikkerige konsertagtige emosies in die naam van kerk, politiek en self-beheptheid plek maak vir balans, dissipline en veral om kleiner, eenvoudiger en meer bewustelik te leef. Kyk na jou eie gesin en pas dit wat joune is baie goed op en of dit `n kaia of kasarm is waar jy bly, jou kind slim of gemiddelde is, of jy lekker verhoudinge het of verwikkelde verhoudinge moet deurwerk – eien dit wat jy het. Eien dit met die wete dat die lewe voor jou slegs gemeet word aan jou verhoudinge in jou klein sirkels en jou herinneringe met jou hart-mense en dat elementêre belewenisse geluk bring. Mense is gras in die wind en ster-stof – alles en een. Daarom is Vrouedag slegs van waarde as vroue dit in nederigheid en aanspreeklikheid vier, met trots en in selfversekerdheid die rolle van vrouwees onderhandel en gesamentlik die orde in hierdie teenstrydige en traumatiese land terugneem deur in self-respek vrouwees op te eis en uit te leef. Elkeen volgens sy eie oortuigings en beperkinge…tot voordeel van onsself, hierdie land en sy mense: verantwoordbaar.”
https://www.facebook.com/taalraad/posts/2472564536359871?__tn__=K-R